Sunday, July 18, 2010

VOLMOED ~ PLEK VAN SON EN VOLSTRUISE

Net soos jy oor die Steyldrift brug is - dis nou van Oudtshoorn se kant - draai jy regs af. Hier en daar is daar 'n groen lusernkol, maar die res is net 'n stowwerige vlakte met vaal karoobossies, so ver as wat die oog kan sien. Die volstruise kan jy ook nie mis nie, hulle is oraloor. Skynbaar die enigste ander wese, behalwe 'n mens, wat hier kan leef!
Hoewel die Olifantsrivier vlak by die nedersetting verby vloei, is daar weinige dae water in. Uit my kinderdae onthou ek dit as 'n droë loop, wel die meeste van die tyd. Want daar was tye in die geskiedenis wat dit 'n siedende, bruisende rivier was wat alles uit die pad geveeg het of sommer net saam gevat het see toe! Van die vroegs-aangetekende vloede in die geweste was dit elke keer die Olifantsrivier wat die inwoners se verbeelding aaangegryp het. In 1885 spoel die nuutgeboude Victoria brug weg, in 1891 word daar beskryf hoe die volstruise en beeste in die rivier afgedryf kom. In 1976 het ek dit self ervaar en gewonder waar al die water vandaan kom en in 1981 het dit ook groot skades vir die boere beteken.
As die son jou op Volmoed se vlaktes alleen kry, brand hy jou dood, het die oumense altyd gesê. Op 'n regte somersdag met die kwik wat in die veertigs loop draai, is dit alles stil rondom jou, selfs die ywerige sonbesies het die stryd gewonne gegee. Dis net jy en die voetpad en die son. Slegs die gehardstes onder die gehardes kan 'n leeftyd daar uithou. Maar as die reën die jaar kom, word die vlaktes omskep in 'n lushof. Daar is 'n glimlag op elke boer se gesig en die volstruise doen hulle bekende dans van die reën. Lusern, die 'groen goud' van die Klein Karoo, aard uitstekend hier en is 'n see van groen in die mooi jare. In slegte jare is dit net die skool se tennisbane wat groen vertoon.
Die mense van Volmoed is baie spesiale mense, mens-mense, mense wat gewoond is aan swaarkry maar nog steeds net hulle beste vir jou sal gee. Die du Toit's wat die winkel en perolpompe besit het, Lampie Olivier van Driehoek wat die skoolbus bestuur het, Loel Olivier en sy gesin wat so lekker gesing het in die kerk en op skool funksies, oom Hendrik Zeelie die skoolopsigter, tannie Edna wat die klein winkeltjie naby die ou koshuis besit het, almal mense wat hul merk gemaak het op die vlaktes van Volmoed en wie se gesigte jou ewig sal bybly.

Dis 'n ver pad sedert die nedersetting reeds in 1770 hul eerste wit boere gehuisves het. Die plek het eers Armoed geheet, so vernoem na 'n Bruinman wat daar gewoon het en wat seker 'n besonderse indruk moes gemaak het op die bevolking van daardie tyd. Sedert 1908 het die eienaar van die plaas Armoed, W.G. Olivier, 'n aanbod aan die kerk gemaak om 5 morg van sy grond asook 'n kerkgebou van 7oo sitplekke te skenk. Hy sou die kerkgebou op sy eie koste laat oprig volgens die plan wat die kerkraad sou goedkeur en hy het die wens uitgespreek dat daar 'n dorp op sy grond gestig moet word. Die kerkraad van Oudtshoorn wou nie hieraan byt nie en vir eers is die aanbod van die hand gewys. Maar in 1910, seker nadat daar nou lank oor die saak gebid en gemurmureer was, het die kerkraad tog ingegee en is die aanbod aanvaar en twee jaar daarna is die transportakte aan die kerkraad van Oudtshoorn oorgedra. In 1913 is 'n pastorie langs die kerk gebou (wat later 'n koshuis sou word) en aansoek om afstigting van Oudtshoorn is gedoen. Maar soos dit nou maar is en nog altyd was draai die kerk se ratte stadig. Eers in 1921 sou hierdie versoek toegestaan word. Gedurende die tydperk 1931-1943 is 'n tweede pastorie met net langsaan 'n mooi groot saal, opgerig. Dit is meer sentraal geleë en sou later die enigste pastorie wees van die gemeente. Die pragtige kerkgebou is nou te koop weens die feit dat daar weinig genoeg mense is om 'n diens die moeite werd te maak.

1 comment:

  1. Die foto's van Volmoed se omgewing is geneem deur Eugene P Claassen

    ReplyDelete