Thursday, February 10, 2011

Lank gesoekte Familie

Na meer as 50 jaar spoor ek so twee weke terug eers my oom(hy is maar 'n jaar ouer as ek), Edward WATERSON op en deur middel van hom, ook my neef Johan CLAASSEN. En om die kroon te span, bied hulle aan om my al die hulp te gee om die familieregister so volledig as moontlik te maak. Dit bly nie by beloftes nie en binne 'n dag of twee, kry ek inligting en foto's wat ek nie gehad het nie.

Nou wat meer wil mens uit die lewe hê...?

Die Verjaardagboekie en haar Geheime...

Op 5 Desember 2010 tel ek mos toe die ou boekie op - tussen 'n hoop ou boeke. Met die deurblaai slag, klim my hart klaar by my keel uit. Dis my 'scoop' van die jaar...! Met meer as 200 inskrywings in haar binneste ontbloot sy vir my veral die doen en late van 'n vroeër baie bekende familie hier in die Paarl maar ook die een en ander oor ander baie bekende families - van onder in die Kaap tot bo in die Noorde!

Ek sal maar soos wat ek die geheime ontrafel, die nodige opdaterings hier doen. Uiteindelik sal dit verskyn as 'n volledige publikasie in 'n harde formaat.