Friday, July 20, 2012

MOENIE ALLES GLO WAT JY SIEN NIE!


Gereeld gebeur dit dat daar na baie jare se aanvaarding dat ’n sekere feit ’n feit is, die teendeel bewys word. Die foutiewe identifisering van foto’s is geen uitsondering nie.

Vir etlike dekades is ’n foto van wat almal gedink het en deur almal (ek inkluis) aanvaar is  as die foto van Jan Hendrik DIJKMAN en sy eggenote, Elizabeth Jane ECKLEY, deur al wat ’n publikasie gebruik. Nêrens kon ek ooit vind watter bron vir die foto gebruik is nie. Twee jaar gelede het ek die foto ook op die Afrikanerkultuurdagboek(waarvan ek ’n administrateur is) se Facebook bladsy geplaas met sekere  inligting rondom Elizabeth, synde die skrywer van die eerste kookboek in Afrikaans. Dié foto, soos hieronder, het ek gevind in ’n tydskrif van die Stigting vir Onderwys, Wetenskap en Tegnologie, die Lantern (Mei 1988 jaargang 37 nr. 2). Daar is geen bron by die foto en artikel geplaas nie.  Later sou ek vind dat sekere publikasies, wanneer hulle die foto gebruik, die bron aandui as die Afrikanerkultuurdagboek.  Hierdie foto is ook nie deel van die fotoversamelings van die Drakenstein Heemkring nie.  Ek hoop egter om deur middel van hierdie aanbieding, uit te vind wat die oorsprong van die foto is.

Intussen het ek opdrag ontvang om die DIJKMAN familie na te vors en het ek dus die geleentheid  om in diepte na die familie se herkoms, hul geskiedenis en hul nageslagte te kyk. Behalwe dat die navorsing nog vêr van klaar is, is ek ook nie van plan om uit te brei op dit wat ek reeds gevind het nie. Talle foute is egter  in die verlede gemaak  wanneer daar oor hierdie egpaar geskryf is. In oorleg met my opdraggewer, het ek  besluit om reeds in hierdie vroeë stadium ’n regstelling te doen met betrekking tot die foto wat almal gedink het die foto van Jan en Elizabeth is.

Ek is bevoorreg om deel te wees van die bestuurspan van die Drakenstein Heemkring en daarom is ek in ’n posisie  om onbeperkte toegang te hê tot die foto databasis van onder andere die meer as 30000 glasnegatiewe van die Gribble- en Dekker versameling. Die versamelings sal ook eersdaags te sien wees op hul nuwe webtuiste en bestellings sal daarvoor geplaas kan word.

Dit was juis met die deurgaan van hierdie foto versameling en dan meer spesifiek die van die DIJKMAN familie, dat dit my soos ’n skoot koue water getref het dat dit onmoontlik nie Jan en Elizabeth op die foto kan wees nie.

Met die volgende paar foto’s sal my bevindings duidelik blyk.

Die onderstaande foto verskyn in ’n uitgawe van Elizabeth se kookboek wat sewe jaar na haar afsterwe in 1908, verskyn het. Die eerste uitgawe het in 1890 verskyn en dis na alle waarskynlikheid ook die foto wat daarin verskyn en ook vermoedelik in daardie jaar geneem is. Daar word nie erkenning gegee aan die fotograaf nie. Elizabeth is op 25 Augustus 1840 gebore.







Die volgende foto  is in 1986 aan die Drakenstein Heemkring voorsien deur nasate van Elizabeth, naamlik mnr. en mev. Jan DIJKMAN van Kroonstad. Dit staan buite alle twyfel dat die twee foto’s een en dieselfde persoon is. Dus weet ons nou hoe Elizabeth Jane ECKLEY in lewe gelyk het. Dit is ook duidelik dat sy nie die persoon op die eerste foto is nie.



Vervolgens hanteer ek die fotobeeld van Elizabeth se eggenote, Jan Hendrik DIJKMAN gebore 22 Augustus 1839 in Nederland.

Die beeld aan die linkerkant is ’n knipsel van die foto heel bo waarin die sogenaamde mnr. en mev. DIJKMAN verskyn. Soos reeds gesê, weet niemand waar die foto vandaan kom, wanneer dit geneem is of deur wie dit geneem is nie. Die foto aan die regterkant is ’n foto van John DIJKMAN en dis geneem op 19.2 1889 deur die bekende fotograaf, James GRIBBLE. Dit is ’n glasnegatief en soos dit die gewoonte van die destydse fotograwe was, is die naam van die persoon wat in die foto verskyn of die naam van die persoon wat die betaling gedoen het, asook die datum waarop dit geneem is, tesame met ’n nommer, op die foto aangebring. My navorsing dui daarop dat die egpaar se oudste seun, John Henry de Vos DIJKMAN,  op 4.1.1864 gebore is. Ek dink mens kan met redelike versigtigheid aflei dat die persoon in die regterkantste foto 25 jaar oud kan wees. En  vêrder, dat die twee beelde een en dieselfde persoon verteenwoordig!




Die enigste foto wat die Drakenstein Heemkring van Jan Hendrik DIJKMAN het, is een wat ook deur mnr. en mev. Jan DIJKMAN aan ons voorsien is in 1986. Die foto is  geneem toe hy omstreeks 1890 deel was van die Patriot se personeel.

Die foto aan die linkerkant is ’n knipsel van die Patriot-foto hierbo en aan die regterkant ’n foto van John DIJKMAN – min of meer dieselfde tyd  gefotografeer. Die Patriot-foto is geneem deur ene C [Carl Friedrich?] BOHLMANN.  Hy verskyn egter nie in die beskikbare lyste van Suid-Afrikaanse  fotograwe nie.



So, wie is dan aan die sy van John DIJKMAN in die eerste foto...? My geld is op Jeanetta Adriana DERKSEN gebore omstreeks Desember 1867 en die vrou van John Henry de Vos DIJKMAN. Die paartjie is op 4.1.1887 (John se 23ste verjaardag) in die huwelik bevestig. Ek beskik nie oor ’n foto van Jeanetta nie maar hoop dat iemand te voorskyn sal kom met ’n foto van haar.



Tensy anders aangedui, is die fotomateriaal afkomstig uit die argief van die Drakenstein Heemkring.

©2012 Johann H Claassen

Thursday, July 12, 2012

Rykdom in die Vallei


 ’n Kollega by die Drakenstein Heemkring vertel  nou onlangs  van sy oupagrootjie wat in lewe die besitter was van heelparty plase en eiendomme in die Vallei en deur almal beskou is  as ’n baie ryk man. Met die afhandeling van sy boedel het die laste bykans sy bates oorskry en kon elkeen van sy veertien kinders slegs £15.00 erf uit die boedel.
Dit het my toe laat wonder oor die rykdom van die boere van die Drakenstein-Vallei gedurende die 1700’s en 1800’s. Met die deurlees van ’n paar inventarisse uit daardie tydperk, kon ek  ’n redelike prentjie vorm van die gemiddelde boer en sy rykdom. Die inventaris bied, behalwe ’n opname van die lewende hawe, ook ’n kykie in die gesin se huis. Daarvolgens kan die grootte van die woning ook met redelike sekerheid bepaal word. Dit gee partymaal ook ’n aanduiding van die gesin se belangstellings soos byvoorbeeld stokperdjies. Dit dui ook die oorledene se skuldenaars en eisers aan en voorts bied dit ook lekker interessante leesstof om te weet watter van die familielede in die skuld was by die afgestorwene.

Ene Jan van As van die plaas Witsenbergh in die Agter-Paarl het heelwat nagelaat aan sy “huisvrouw”, Helena Schalk van Merwen(vd Merwe) en ses minderjarige kinders toe hy in 1713 oorlede is. Benewens die “negen stux mansslawe” wat gewaardeer is teen 2400 guldens en twee slavinne genaamd Flora en Marie teen 240 guldens, was daar ook 1370 skape, 129 beeste en twaalf perde. Die diere was gewaardeer teen 3100 guldens.
Daar was ook:
twee waens met  toebehore
twee ploeë  en een eg
twaalf leggers(vate) met wyn
sewe ou ledige leggers
drie  ou ledige(leë) halwe vate
twaalf ledige mompijpen (mom is ’n soort bier)
twee snaphaanen(gewere)
twee zijdgeweeren (sabels)
een  pistoolen met sijn holsters
twee zadels en toomen
eenig thuyngereetschap
20 en 30 mudde tarwe(koring)

Saam met die klere en meubels – wat nie gespesifiseer is nie – was die bates gewaardeer teen 11394 guldens en die laste teen 2500 guldens. Dit het dus ’n gewaardeerde batige saldo van 8894 guldens gelaat. Hierdie boer se rykdom was in ’n groot mate gemeet aan die hoeveelheid slawe wat hy besit het.

Ene Pieter Plesi (du Plessis), ’n burger van Drakenstein, was nie ryk nie. Sy inventaris gedateer  26 April 1742, dui aan dat hy aan tien persone/instansies geld geskuld het; onder andere 600 gulden aan die Drakenstijn kerk (huidige Strooidakkerk). Die rente daarop  het 108 gulden beloop. Die totale skuld teen die boedel was  3065 gulden. Sy bates was ’n paar stuks vee en die  waarde daarvan sou nie die skuld sou kon delg nie. Die gemiddelde waarde van ’n skaap en bees was onderskeidelik  2 gulden en 12 gulden.

Francois Jacobus du Toit en sy vrou, Anna Jacomina Luttig, van die plaas Waterpoel, se inventaris van hul intestate boedel  is in Engels opgestel. Hul inventaris dui aan dat daar ’n onthaalvertrek (the hall), ’n kamer aan die regterkant, ’n kamer aan die linkerkant, ’n spens en ’n kombuis was. Daar was ook ’n wynstoor. Die beskrywing van die vertrekke dui op die grondplan van ’n tipiese H-vormige huis wat sedert die 18de eeu gewild begin raak het in die Kaapkolonie.  Dat  hulle redelik onthaal het, blyk uit die 17 stoele, drie eetkamer tafels, heelwat wyn- en ander glase asook duursame bykomstighede  in die onthaalvertrek.

Die kamers aan die linker- en regterkant was slaapkamers met die regterkantse een heel waarskynlik die hoofslaapkamer aangesien die beddens as “bedstead complete” aangedui word. Die aanwesigheid van twee Bybels in laasgenoemde bevestig my vermoede. Drie van die egpaar se ses kinders was in daardie stadium al getroud.
In die hoofslaapkamer was gordyne en in die kinderkamer darem ’n portret teen die muur. Die “spy glass” in die kinderkamer was ’n vêrkyker en het niks te doen met spioenasie nie! In die wynstoor was daar 13 boeke, iets wat glad nie volop was nie en slegs persone wat professionele beroepe beoefen het of anders baie vermoënd was, het ’n boekery besit.

In Francois se inventaris word daar spesifiek voorsiening gemaak vir sy  jongste seun, Bartholomeus Johannes du Toit. Luidens die dokument is daar  ’n geskenk wat deur sy vader gemaak is en ’n bruidskat ter waarde van 100 riksdaalders. Duidelik ’n vader wat wou sien dat die jongste kind sy regmatige deel moes kry.

En wat was op die solders? Byna sonder uitsondering sal dit daar aangeteken staan: Een ledige kist. Niemand – ryk of arm – sou sonder een betrap wou word nie...


Bronne:
Kaapse Argiefbewaarplek
Cape Transcripts – TEPC Two Centuries Transcribed 1673-1834. [Transcriptions of manuscripts from the Cape Archives about people and places at the Cape of Good Hope].