Friday, November 26, 2010

Die Eerste Blankes in Oudtshoorn en die tydjie daarna...[’n uittreksel uit my boek, Die Laaste Oes]

Foto: Roete waarlangs die Attaquaskloof-pas gekronkel het.




Die vroegste pioniers het hulle reeds in 1750 in Oudtshoorn bevind, trouens die eerste plaas in die Klein Karoo is gedurende 1731 aan Fred J Van Eeden uitgegee wat geboer het in die Attaquaskloof(die omgewing Robinson pas, Moerasrivier en Saffraanrivier). Die dorp, bekend onder die buurdorpe as veldskoendorp, is aanvanklik in 1847 aangelê op die plase Hartebeesrivier en Grobbelaarsrivier en in 1863 geproklameer as 'n dorp. Beide die plase was die eiendom van Cornelis Petrus Rademeyer. Rademeyer se huis was geleë waar die Onderwyssentrum vandag is op die hoek van Vrede en Baron Van Rheede straat. Die plaas is in 500 watererwe opgedeel en die verkoop regulasies het onder andere bepaal dat elke erfhouer geregtig sal wees op een vyfhonderdste deel van die water van die Grobbelaarsrivier. Elke koper moes ook onderneem om sy deel van die sloot skoon te hou en hom te weerhou van diefstal van sy buurman se water. In 1887 word Oudtshoorn 'n volwaardige Munisipaliteit. Oudtshoorn is vernoem na die kleindogter van baron Pieter van Rheede van Oudtshoorn, mevrou Geesje Ernestina Johanna Bergh. Sy was getroud met die Siviele Kommissaris(Landdros), Egbertus Bergh, van George. Die baron het na Suid-Afrika gekom in 1741 en was die Sekunde in 1760. Hy keer terug na Holland in 1766 en word aangewys as Goewerneur vir die Kaap in 1772. Hy sterf egter in 1773 onderweg na die Kaap. Die kerklike gemeente is eers op 11 Oktober 1853 gestig. Tot 1798, toe die gemeente Swellendam gestig is, het die mense van hierdie streek onder die gemeente van Tulbagh ressorteer. Die gemeente George is in 1812 gestig en het Oudtshoorn onder daardie gemeente ressorteer en vir die eerste keer is 'n kerkraadslid vir hierdie wyk gekies. Die eerste kerkgebou is aan die onderpunt van George weg(nou Langenhovenweg) opgerig(waar Bokomo nou is). Die kerkplein was noord van die kerk geleë, in die omgewing van Plein straat. Cornelis het vir hierdie doel 5 morge van sy plaas beskikbaar gestel in 1838. Die kerk is in 1839 ingewy.

Op 11 Oktober 1853 is die gemeente van Oudtshoorn gestig. Weens finansiële probleme kan die eerste leraar, Ds van der Riet, eers op 3 Mei 1857 bevestig word. Op 7 November 1859 is tot die oprigting van 'n nuwe kerkgebou besluit. Op 15 Januarie 1861 het die hoeksteenlegging plaasgevind. Weens finansiële moeilikhede is dié sierlike gebou eers op 7 Junie 1879 ingewy teen 'n koste van R22425.00. Die bouery was twee keer gestaak en wel gedurende Oktober 1863 en weer gedurende Desember 1865. Die bevolking het so vinnig uitgebrei dat die volgende gemeentes gestig is: Calitzdorp in 1873; De Rust in 1900; en Volmoed in 1921. In 1948 is Oudtshoorn-Wes onder die bekende Dr Andries Treurnicht afgestig.

Nog 'n kerk wat ek spesiaal wil vermeld is die Independente kerk wat deur eerwaarde Anderson opgerig is op die hoek van St John straat en Baron Van Rheede straat (waar Headlines nou geleë is). Talle Claassen families het oor die jare in St John straat gebly. Pa Piet het op vier verskillende plekke in die straat gebly in sy sewentig jaar. Sy seun Ernest bly nog steeds daar en ons oupa, Petrus Johannes(1900-1978) het daar gebly asook ons oupagrootjie Nicolaas Johannes Claassen(1860-). Dan het Pa se suster Meraai daar gebly en so ook pa se broer Nicolaas Johannes. Die straat se naam was eers Chapel straat. In 1860 was klipkappers uit Skotland laat kom om die St Judes Anglikaanse kerk te bou.

Intussen het die lewe aangegaan op ekonomiese gebied met sy hoogte en laagte punte.

Oudtshoorn is bekend vir sy droë warm klimaat en groot droogtes het menige boer bankrot gelaat. En as dit 'n slag kom reën, dan kom dit in so 'n groot oorvloed dat alles weer weg gespoel word en die boere met groter probleme laat. Jare waarin groot en langdurige droogtes aangeteken is, was 1859 toe drinkwater met 'n wa na huise geneem moes word. In 1869 word die droogte gebreek met wydverspreide vloede met gepaardgaande skade. Ná nog 'n lang droogte begin dit op 13 Mei 1885 hard te reën en dit klaar eers ná 31 uur op. Die Grobbelaarsrivier vloei 500m breed en die nuwe Victoria brug by Steyldrift spoel weg.

1894 is aangeteken as die droogste jaar in die geskiedenis tot op daardie stadium. Water is aangery en verkoop teen 'n sikspens per emmer. Weereens is dit swaar reën op 1 Maart 1891 en storms wat die droogte breek. 1899 word weer aangeteken as die droogste in die geskiedenis en 1919 as die droogste in 50 jaar. Ekself het in 1967 gesien hoe perde en ander diere in die Saffraanrivier afgedryf kom. Dit was ook na lang droogte tydperk. Daarna was daar weer in 1981 ernstige verspoelings toe Laingsburg ook 'n groot mense ramp beleef het.

Oudtshoorn is internasionaal bekend as die bakermat van die volstruis bedryf. Dit was boere soos G Olivier, H Raubenheimer van Heimersrivier(langs Saffraanrivier) en ene Van Der Westhuisen van Bakenskraal wat volstruise gedurende 1850 getem het soos ons dit vandag ken. In 1868 het Arthur Douglas 'n broeimasjien ontwerp wat tot gevolg gehad het dat die produksie van volstruise verdubbel het. Hy noem die masjien die 'Eclipse'. Meer volstruise het meer voer gevra en in 1870 was lusern vir die eerste keer in Suid-Afrika aangeplant deur mnr. Scholtz, 'n magistraat van Oudtshoorn.

Die ekonomie het maar teen 'n slakkepas gegroei en dit was gedurende die sestiger jare 'n geval van drie treë vorentoe en vier treë terug. In 1860 was dit 'n besondere slegte jaar vir Suid-Afrika en uiteraard ook vir Oudtshoorn. 'n Engelse inwoner skryf hieroor
:"Welcome back to drought, starvation, preferent bonds, fraudulent insolvencies and ruin…it is not money but sense that is wanted at the Cape and the most sensible thing a man can do is clear out of the country before he has lost his all." Dit was amper die einde van Oudtshoorn se bestaan. Mense was oor die algemeen depressief, werk skaars en die boere moes hier teen 1865 bywoners word - sommige op hul eie plase nadat hulle dit verloor het. In 1862 hang 'n welgestelde kluisenaar, ene JG Paarlby homself op. Moontlik het hy sy geld/besittings verloor of het hy bloot moeg geword daarvoor wat hy rondom hom gesien het. Hy word buite die begraafplaas begrawe! In November 1865 rapporteer The Advertiser & Mail dat 34 mense tronk toe gegaan het net om darem 'n bietjie kos in hul liggame te kry.

Daniël Kerwin, 'n plaaslike polisieman sny sy vrou se keel af weens haar owerspelige verhouding met die buurman. Dit het tot gevolg dat die Rondgaande Hof op 3 April 1865 vir die eerste keer 'n sitting in Oudtshoorn het. Regter Watermeyer is die Voorsittende Beampte in die betrokke saak.

Vanaf 1874 begin dit weer beter gaan met die ekonomie. Tussen 1875 en 1882 het die pryse van vere geweldig gestyg. Skielik was daar te veel geld. Volstruise het verkoop teen £1000 stuk. Boere het begin om ander gewasse uit die grond te haal en lusern in die plek daarvan aan te plant. Elke tweede Jan Rap en sy maat het begin om met volstruise te boer. Daar bestaan vandag(2008)nog sulke klein kampies of kleinhoewes teen die Grobbelaarsrivier as 'n uitvloeisel daarvan. Die voorspoed was orals te sien. Die eerste hotel en telegraaf kantoor is gedurende 1875 ingestel met die Standard Bank kort op hulle hakke in 1876. Gedurende Mei 1879 word die Oudtshoorn Courant gestig. Konserte word gehou in die Templar's Hall en hier vanaf 1883 het nuwe bergpasse begin open. Mense kon nou van oral vinniger op Oudtshoorn kom. Dit is interessant om te weet dat daar 14 toegangsroetes tot die Klein Karoo is waarvan 5 spesifiek tot Oudtshoorn toegang bied.

Omdat die Attaquaskloof-pas die oudste toegangsroete tot Oudtshoorn is en ook 'n besondere betekenis het vir my familie, wil ek graag in die volgende paragrawe daarop uitbrei.

Die roete van die Kaap tot in Graaf-Reinet het oor die Attaquaskloof-pas gevolg vir bykans 159 jaar nadat vaandrig Isaq Schrijver in 1689 met 'n klein ekspedisie in opdrag van Simon Van Der Stel vir beeste en skape moes gaan soek in die binneland. Hy het 'n ou olifantpad verbreed en word hy op 28 Januarie 1689 die eerste Europeër om 'n roete oor die Outeniekwas te vind en die eerste witman wat die landskap betree wat later Oudtshoorn sou word. Op Dinsdag 4 Januarie 1689 om 15:00 vertrek Schrijver, een sersant, twintig behoorlik gewapende manskappe en twee ossewaens vanaf die Kasteel. Die wind was die dag Suid-Oos. Dieselfde aand om nege uur bereik hulle die buitepos De Kuijl (die teenswoordige Kuilsrivier). Teen 26 Januarie bereik hulle die agterkant van die Attakwas bergreeks. Hy het dit eers die Lange Kloof genoem, maar dis weldra verdoop na Attakwaskloof. Die bosse was baie dig en hy stuur die sersant, vier manskappe en twee Hottentotte die berg in om die moontlikheid van 'n pad te ondersoek. Hulle kom die volgende oggend om agt uur terug en rapporteer dat 'n pad moontlik is as die bosse na die een kant verwyder word. Daarop stuur hy agt van die manskappe en 'n aantal Hottentotte om die skoonmaak werk te gaan doen. Hulle kap toe die bosse uit en steek dit aan die brand. Die dag was warm en die wind Suid tot Wes. Op Vrydag 28 Januarie bereik hulle die omgewing waar die plaas Saffraanrivier tans geleë is. In hierdie omgewing skiet hulle 'n Berg Zebra(Equus Zebra). Attakwaskloof-pas beteken "die pas van die Wit mens." Die Attakwas-stam van daardie omgewing was klaarblyklik lig van kleur en was so genoem deur die ander stamme. Bekende reisigers/skrywers van daardie tyd wat die pas gebruik het, was Thunberg 1772 en 1773; Sparrman 1775 en 1776; Swellengrebel 1776; Van Plettenberg 1778; Patterson 1778 en 1779; Muller en Holtzhausen 1782 en 1783; Gordon 1786 en Van Reenen 1790. Barrow en ander het in die vroeë 1800's gevolg. Intussen is dit druk gebruik deur boere en jagters

Nadat die Montagu-pas tussen George en Oudtshoorn in 1847 voltooi is, het die Attakwaskloof-pas al meer in onbruik verval en was agteruitgang daarvan merkbaar. Omdat die Oudtshoorn-George-Mosselbaai roete via die Montagu-pas nie die antwoord was op 'n roete na die see nie, was die Ruiterbosch-pas tussen Oudtshoorn en Mosselbaai in 1869 voltooi. Dit is kort daarna herdoop na die Robinson-pas.

Charles Michell, die eerste landmeter-generaal van die Kaap, het ook redelik baie rapporteer oor die Attakwaskloof–pas en omgewing. In een van sy baie joernale het hy 'n hele bladsy opgedra aan botaniese tekeninge van drie Enplurbiae wat hy gevind het in die Attakwaskloof area. In 1831 het die eerste verslae deurgekom na Michell oor die foute wat gemaak is deur landmeter Pietersen in die Attakwaskloof area. Landmeter Duminy moes dit toe gratis her-opmeet, maar hy was nog treuriger as Pietersen. Daarbenewens het hy onwettig geld gevra vir die opmetings en boonop die geld in sy sak gesteek. My 2x grootoupa, Cornelis Johannes Claassen het die plaas Kleinfontein besit in die Oudtshoorn distrik en met Michell se besoek aan die Attakwaskloof distrik het hy 'n aantal klagtes aan hom oorgedra. Cornelis het byvoorbeeld nog geen titelaktes vir sy plaas Kleinfontein ontvang tot op daardie stadium nie. Die plaas was opgemeet in 1829 deur ene Pietersen en daarna weer in 1833 deur Duminy.

Cornelis het ook aansoek gedoen vir 'n leenplaas, aangrensend tot Kleinfontein, naamlik Wagenaarskraal. Duminy het botweg geweier om die plaas op te meet tensy ene Du Plessis die helfte daarvan kan kry! As die korrupte optrede deur Duminy in sy totaliteit beskou word, is dit nie onvanpas om aan te neem dat hierdie Du Plessis, 'n vriend van Duminy was nie. Michell laat hom soos volg uit in sy verslag: "'Mr Duminy had no business to meddle in the appropriation of this ground it having been inspected for Claas[s]en wholely and solely. This is an additional proof of the arbitrary measures indulged in by the self constituted authority of the surveyors, who in point of fact are and ought to be no more than machines moved by the authorities by whom the inspections are affected." Ek kon byvoorbeeld geen tekens van die plaas Wagenaarskraal vind in die testament of distribusierekening van Cornelis en sy vrou nie. Ook geen melding daarvan in sy seuns se testamente nie. As mens kyk na die kaarte van Kleinfontein en die naburige plase, sal jy agterkom dat dit net ekonomiese sin sou maak om die plaas Wagenaarskraal te bekom.

Op 11 Januarie 1836 vra Michell dat die Attakwaskloof-pas herstel word. Gedurende Februarie 1837 rapporteer hy dat die herstelwerk tot gevolg gehad het dat die waarde van Mosselbaai se erwe viervoudig toegeneem het. Boere aan die noordekant (Oudtshoorn se) kant het hom bedank vir sy bydrae aangesien hulle goedere spoediger in Mosselbaai en omstreke aangekom het. Die Attakwaskloof se roete loop deur Saffraanrivier plaas. Dié plek waar ek 'n groot gedeelte van my grootwordjare deurgebring het. Een van die plase van Coetzee Laubscher. Op die plaas, nader aan die pas se rigting staan 'n ou gebou waar werkmense van Coetzee gebly het. Dit was die Klein Karoo se eerste Hotel en het in 1880 reeds sy deure gesluit. Die trekkers van die Groot Trek sou ook hier 'n drankie of twee geniet het. Sommige sou besope daaruit gestrompel het. As jy in die omgewing daar rondkyk is dit kompleet of die tyd stilgestaan het. Dit moes dieselfde bekoring vir Schrijver, Michell en andere van sy tyd gehad het as vir my en my broers wat dikwels in die omgewing gespeel het. Dit was ook die pad na Ellis se winkeltjie in Moerasrivier langs die teerpad. Kaalvoet het dit ons kinders omtrent 'n dag gevat om die heen en weer tog af te lê.

In 1857 word Meiringspoort amptelik ge-open. In 1884 word die nuwe brug oor die Olifantsrivier by Steyldrift voltooi. Dit word die Victoria Bridge genoem na die koningin van Engeland. In 1885 is daar 'n ligte terugslag in die volstruisbedryf maar dit tel weldra weer kop op.

Die sosiale lewe op Oudtshoorn het gebloei en het 'n vinnige pas begin aanneem. In Julie 1892 word daar 'n maskerbal gehou en weer een op 1 Oktober dieselfde jaar. Op 8 September 1892 woon die premier , Cecil John Rhodes 'n banket by en lê die hoeksteen vir die teenswoordige Drilsaal. Later die jaar, op 1 Desember word 'n vioolkonsert gehou. Ellie Marx wat later die leier van die SABC orkes word, is die ster van die aand.

Teen 1894 is daar 23871 inwoners en was daar 'n winkel vir elke 200 mense. Baie van die vere kopers was Jode en 70% van die winkeliers het ook uit daardie groep gekom. Hulle getalle groei so aan dat 'n sinagoge in 1888 en 'n tweede in 1892 vir hulle ingewy word. Teen 1905 is daar 600 Joodse gesinne en heet Oudtshoorn Klein Jerusalem. Vandag is daar maar 16 gesinne.

Die sportveld en pawiljoen, die teenswoordige Rek soos ons dit ken, word aangelê en gebou in 1894. Daar word intussen 'n begin gemaak om water aan te lê na die dorp en word teen 1900 voltooi.

Die volstruis bedryf gaan van krag tot krag en in 1905 bereik die vere van ses voëls 'n allemintige R12000.00!; teen 1911 is daar alreeds 110 000 volstruise. Ten einde die uitvoer van volstruise te bespoedig word spoorlyne aangelê. Een tot op Klipplaat met 'n verbinding na Port Elizabeth In 1904 en een tussen Oudtshoorn, George en Mosselbaai in 1913. Oudtshoorn was toe verbind met Port Elizabeth en Kaapstad. Gedurende 1905 vestig 22 prokureurs en nege landmeters hulle op die dorp.

Elektriese ligte word in 1911 aangeskakel en die Gaiety Theatre word Augustus 1913 geopen. Die lewe is een fees op Oudtshoorn; groot huise(sogenaamde volstruispaleise) het oral opgeskiet in die dorp en distrik. Heelwat van hulle is nou nog te sien. Pinehurst, The Towers en vele ander. Die volstruisbedryf bereik sy hoogtepunt in 1913.

En in 1914 is dit asof 'n groot swart kombers oor die dorp gegooi word. Die veremark tuimel in sy totaliteit. Bankrotskappe skiet die hoogte in en mense verlaat die dorp in groot getalle om elders werk te gaan soek. Boere word gedwing om hul volstruise te slag omdat daar nie voer vir hulle is nie. Baie boere word weer bywoners, veral op tabakplase wat nou weer nuwe lewe kry. Die gewasse wat vroeër as 'n onnodigheid gesien is, word nou weer aangeplant. Gedurende hierdie tyd word besluit om 'n dam in die loop van die Kammanassie rivier te bou. Dit verskaf welkome werk en inkomste aan honderde inwoners. Dié dam word in 1924 voltooi. Kammanassie is die Khoi woord vir waswater/wasrivier. Die rivier ontspring 16 kilometer oos van Uniondale tussen die Kouga en Outeniekwa berge en vloei 120 kilometer weswaarts waar dit aansluit by die Olifantsrivier, 2 kilometer oos van Oudtshoorn.

Soos 'n messias verskyn CJ Langenhoven(1873-1932) op die voorgrond en hy beywer hom veral om Afrikaans die amptelike taal van die volk te maak. Sy droom word deur harde werk en deursettingsvermoë verwesenlik in 1925. Die huis waarin hy die grootste gedeelte van sy leeftyd gebly het, naamlik Arbeidsgenot, is vandag 'n Nasionale Monument en trek besoekers van oor die hele wêreld.

Ten spyte van die depressie van 1930 begin die landbou weer kop optel. Met die uitbreek van die tweede wêreldoorlog was 'n militêre opleidingskamp langs die pad na Calitzdorp opgerig. Spoedig daarna is ander kampe by die kamp op Oudtshoorn geïnkorporeer. Dit op sigself het 'n groot ekonomiese inspuiting vir die dorp beteken.

Toerisme het ook 'n opbloei begin beleef veral sover dit die Kango Grotte en volstruisplase betref. Deesdae is Oudtshoorn veral bekend vir die hoog suksesvolle Klein Karoo Nasionale Kunstefees wat jaarliks op die dorp aangebied word en toeriste van regoor die wêreld hiernatoe laat stroom. Oudtshoorn het weer ekonomiese voorspoed begin beleef…

Sunday, September 19, 2010

Kort Geskiedenis van die dorpie Delve in Schleswig-Holstein, Duitsland





'n Uittreksel uit die boek Die Laaste Oes…'n storie van die Claassens van Delve tot
Oudtshoorn. Soos saamgestel deur Johann H Claassen.













Om 'n meer vollediger prentjie te skets van die omstandighede waarbinne ons stamvader, Claus Clauszen, gebore is en groot geword het, word 'n kort chronologiese geskiedenis van sy geboorte dorp, Delve hieronder aangedui.
Die naam Delve is afgelei van die Nederduitse dialek wat "grawe" beteken.

Delve word in 7 Mei 1281 die eerste keer genoem in 'n kontrak met Hamburg. Tussen 1140 en 1281 was die Delve Kerk die middelpunt waar om die gemeenskap gevorm is.

In 1329 word daar die eerste keer gerapporteer oor Schwienshusen, oftewel varkhuise.

In 1352 na 'n storm was die Eider rivier in vloed en is dorpe Hennerfeldt, Zangsenhorn, Oesterwisch en Zanzen oorstroom. Talle het verdrink.

Gedurende die 15de en die 16de eeu is die Delve Kerk verander na 'n Kasteel.

Sedert die middel van die 16de eeu, die hervormingstydperk, was die Eider rivier die grens tussen Schleswig (wat aan Denemarke behoort het) en Ditmarschen (behorende aan Duitsland).
Die laer gedeelte van die Eider was toe gebruik vir maritieme doeleindes.

In 1559 breek 'n oorlog in die kleine uit tussen die kerkhoof Hans Lübken van Schwienhusen (met 10 ander mans) en 200 man van Friesland. Laasgenoemde was besig om persele langs Wallen te plunder en wou dieselfde met Delve doen. Hulle moes egter gou-gou die aftog blaas toe hulle afgeransel word deur Hans en sy manne.

Gedurende 1617 sterf talle mense toe die "Swart Dood" toeslaan in Delve.

In 1676 vernietig 'n groot vuurbal 35 geboue in Pfingsten. Talle huise het afgebrand tot op die grond.

In 1712 verloor talle mense weer hul lewens tydens 'n plaag wat die dorpie tref.

In 1717 tref 'n watervloed weer die dorp. Die dyke word weggespoel. Nuwe dyke word gebou wat vandag nog in plek is.

In 1741 word die Delve Skeepskorporasie die eerste keer op papier genoem, hoewel dit op daardie stadium reeds bykans 'n honderd jaar bestaan het.

Die Eider kanaal word in 1784 ge-open en dit vorm 'n direkte waterweg tussen die Baltiese- en Noordsee. Dit is ook 'n belangrike waterweg vir die wêreld en 'n groot ekonomiese inspuiting vir Delve.

Gedurende 1825 breek een van die dyke weer tydens 'n vloed en die water styg tot teenaan die kerk. Vandag staan daar steeds 'n ge-ankerde skip by die begraafplaas.

Vanaf Oktober tot Desember 1850 word die kerk in Delve gebruik as 'n hospitaal weens die Duitse-Spaanse oorlog, die slag van Friedrichstadt.

Op 7 Februarie 1867 word 'n mannekoor van Delve en Schwienhusen gestig. Dit is die oudste sang klub in die dorp.

Op 1 Oktober 1886 word 'n melkplaas gestig met 'n huis wat deur die boere opgerig word. Op 26 Julie 1887 kom dit in produksie.

In 1889 het Delve reeds 16 seevarende en 4 rivier skepe onder hulle vlag gehad. Twaalf van die dorpelinge het kapteins lisensies gehad vir oorsese vaarte.

In 1905 word Delve met 'n nou spoorbaan verbind met die Duitse Spoorweë.

In 1926 kry Delve elektrisiteit en in 1929 word die hawe gerestoureer en opgradeer.

In 1930 kry die dorp 'n nuwe en beter brandweer.

In 1937 word 'n nuwe staatsorkes, die "Umtata" gestig.

Na die tweede Wêreld Oorlog het baie vlugtelinge hulself in Delve gevestig. Die inwoner getal styg van 721 na 1525 in 1946. In 1956 neem die bevolking weer af na 844 nadat baie weer na Suid-Duitsland emigreer.

In die Somer van 1961 word huishoudings gekoppel aan die drinkwater stelsel van Noord Ditmarschen.

In 1966 word 'n nuwe skool ge-open en op 25 Mei 1969 word 'n nuwe kampeerplek, die "Eidertal" ingewy.

Op 1 April 1970 word Delve opgeneem in die groter gemeenskap van Hennstedt.

In Augustus 1974 word 'n Hoërskool aangelê.

Op 31 Augustus 1974 word die Aanklagkantoor hervestig in Hennstedt.

Gedurende Julie 1981 word die rioolwerke van Delve voltooi en huishoudings gekoppel aan die stelsel.

In 1984 word 'n nuwe brandweerstasie en werkwinkel ge-open.

Die historiese pontdiens oor die Eider rivier tussen Schwienhusen en Barsen word ná 40 jaar weer in gebruik geneem. Slegs voetgangers en fietsryers mag gebruik maak daarvan."

Die oorspronklike teks het verskyn op die webwerf van http://www.delve.de/ en is uit Duits vertaal na Engels op 9 Augustus 2007 deur Mnr en Mev Werner Rumpel van Derksenstraat 16, Paarl.








































Monday, July 26, 2010

OLIVE GRACE JAMES *9 DESEMBER 1925 † 19 Julie 2009 ~ ’n KORT LEWENSKETS








'n Kort Lewenskets






OLIVE GRACE JAMES










Saamgestel deur haar skoonseun, Johann H Claassen


Dit sou net niks minder nie as reg wees dat ek hierdie kort lewenskets van Ma Olive saamstel. Ek ken haar al twee en dertig jaar, weliswaar nie so lank as haar eie kinders nie, maar lank genoeg om enkele aspekte van haar lewe met die res wat agterbly, te deel. Ek is geweldig dankbaar vir die voorreg en geleentheid om dit wel te kon doen.


Olive Grace JAMES is gebore op Woensdag die 9de Desember 1925 in 'n warm hospitaal van Pietermaritzburg as die 10de oudste van 12 kinders en die derde oudste van 4 dogters van George William JAMES en Florence Josephine WARNER.


Uit die aard van haar vader se werk, het die gesin op verskeie plekke in die Republiek gebly, onder andere in Durban, Oos-London Somerset-Oos, Johannesburg, Jagersfontein, Beaufort-Wes en Worcester.


Olive trou op 30 November 1949 te Kaapstad met Jacobus Adriaan VICTOR gebore 24 Augustus 1923 te Laingsburg en seun van Jacob VICTOR en Susanna Maria BOTES. Uit hierdie huwelik word vier kinders, naamlik Jacob, Adriaan, Estelle en Ronel gebore.


Ma Olive self, het op verskeie stede en dorpe van ons pragtige land gebly, nie omdat sy daarvan gehou het om rond te reis nie, maar weens omstandighede buite haar beheer. Sy het eendag aan my genoem hoeveel keer sy al getrek het, maar dit ontgaan my nou weens die omvang daarvan. Na die dood van haar kinders se pa, Jacobus Adriaan in 1968, moes sy die meeste van die tyd as alleen-ouer haar kroos self grootmaak, voed en klee. Die twee huwelike wat sy noodgedwonge moes aangaan om 'n vader en versorger vir die gesin te hê, was nie sonder probleme nie en het dit die kwaliteit van 'n vrou soos Olive geverg om die wa deur die drif te trek. Skilder vir jouself dié prentjie: 'n Vrou, 'n ma, met vyf monde om te voed en te klee, skool toe te stuur, te help met huiswerk en sorg dat die klere gewas en gestryk kom; dis die vroeë sestiger jare, die land is deurmekaar en redelik onveilig; die oudste seun is op daardie stadium skaars agtien en die jongste een, Ronel, skaars drie jaar oud. Jacob moet noodgedwonge die skool verlaat om te gaan werk sodat daar 'n ekstra inkomste is. U sal nou vir my sê dat daar baie gesinne gereeld in dieselfde bootjie is of was. Dit is baie waar ja, maar dit is ma Olive waaroor ons nou praat. Dis haar en haar gesin se swaarkry dae wat ek hier probeer skets. In die huidige tydvak waarin ons is, slaag 'n enkel moeder weinig daarin om met al die hulpmiddels tot haar beskikking, slegs een kind groot te maak.


Die prentjie wat ons uiteindelik hier kry is een van 'n moeder wat net die beste vir haar kinders wou gedoen en beding het. 'n Moeder wat ongewilde besluite moes neem om die beste onder die omstandighede vir haar kinders te bied. Moontlik het die kinders, vriende en familie nie daardie tyd verstaan nie, maar ek glo dat hulle dit wel nou kan verstaan. Waar pa Koos gereeld die gesin op uitstappies na familie en vriende elders geneem het, kon dit nie meer geskied nie. Waar hy vir hulle op 'n Saterdag middag bioskoop toe geneem het, kon dit nie meer gebeur nie. Maar ma Ollie het sterk gestaan en deurgedruk. Die twee dogters is deur matriek maar die seuns moes uitspring en help. So jammer dat so min mense daarvan geweet het; of daarvan geweet het en so min daaraan gedoen het.


In lewe het sy twee van haar seuns aan die dood afgestaan. Trou aan haar roeping as moeder het sy, sonder om aan haar eie verdriet te dink, die leiding geneem en haar skoondogters bygestaan met raad en daad, hulle vertroos en die reëlings laat vlot.


As ouma het sy vêrder gegaan en vir Cornelia feitlik enkel en alleen opgevoed en grootgemaak tot en met haar "grootmens jare". Sy het al haar tyd, energie en materiële vermoëns in haar laaste jare vir ander gegee sonder om iets terug te verwag.


As daar nou en dan medaljes aan moeders wat hulle onderskei het, uitgedeel moes gewees het, dan moes ma Olive ten minste twee gekry het. Een, omdat sy hierdie omgee moeder vir haar gesin en kinders was en 'n tweede, omdat sy hierdie taak met bomenslike bekwaamheid verrig het.


In haar laaste jare het sy geluk gevind in die persoon van oom Willie GERMISHUYS van Viljoenshof. Hoewel hy haar ook ontval het na slegs 'n paar jaar van getroude lewe, was hierdie twee oumense 'n gelukkige paartjie; Oom Willie, 'n sorgsame man vir haar en een vir wie die kinders, toe al groot, Pa kon gesê het. Natuurlik het oom Willie baie dae sy kop geskud vir hierdie energieke vrou van hom, maar hulle het bymekaar gepas soos koek en 'n basaartafel. Die een sou heel uit sy plek lyk sonder die ander.


Ma Olive was een wie met almal kon klaarkom en vriende het gereeld van heinde en vêr gekom om darem net eers 'n draai by tant Olive te kom maak. Sy het soveel mense se lewens aangeraak. Van die geringste tot die belangrikste.


Sy het ook die gawe gehad om enige verwaarloosde tuin in 'n ommesientjie te omtower in 'n lushof. Spreekwoordelike groen vingers gehad. Ons praat egter nie van die klomp opdragte wat sy uitgereik het om haar doel met die tuin te bereik nie. Die hele familie was betrek en as jy as vreemdeling te ná aan die tuinhekkie verby gestap het, was jy ook gou-gou deel van die span.


As buitestander kon ek sien hoe die finale reëlings deur die vertrekkende matriarg self getref word(die kinders sou dit dalk nie so opgemerk het nie); André en Corrie moes op 'n sekere tyd spesifieke goed kry, Estelle weer hare. Haar "Onthou om die rose te snoei só en sulke tyd. Moenie hierdie en daardie op dieselfde plek of dieselfde tyd plant nie. Maak dít nóú nat en los dáárdie vir volgende maand" was vir my sulke duidelike tekens. En terwyl sy by my aan tafel in die kombuis die Saterdagoggend haar soveelste sigaret opsteek en Estelle en die kinders op hul soveelste rit na die Mall vertrek, vertel sy vir my van haar grootste droom wat nooit kon waar word nie: Om haar eie Kwekery te kon besit. En ek weet, sonder om vrae te vra: Ma Ollie sou 'n sukses daarvan gemaak het! Ek sien nou nog die oë wat dáár kyk waar ek nie kon sien nie.


Op haar laaste het sy vir Ronel en Johannes aan die gang gesit om tog asseblief die hangende varing-mandjies gereed te kry vir die plantjies. Renier moes sorg dat daar genoeg mis beskikbaar is. Maar die Dood vra nie of die plantjies al geplant is nie. Hy kom haal somtyds die tuinier voor die oes al af is.


Sy sou aandagtig luister as jy 'n probleem stel en was altyd reg met raad. Raad wat partykeer vir ons veel outyds geklink het, maar agterna, na baie jare veel sin gemaak het. Die kleinkinders kon haar dalk anders beleef het veral as hulle haar blomplantjies verniel het of met hulle vuil voete die huis ingekom het. Maar sy was onvoorwaardelik lief vir hulle en het altyd met groot trots oor elkeen gesels. Sy het met ewe veel trots van haar eie kinders gesels tydens én buite hulle teenwoordigheid. Elkeen was spesiaal. "Senior oomblikke" het nou wel gesorg dat Estelle vir 'n oomblik Ronel was en andersom. Ons kon altyd saam daaroor lag.


As aangetroude in die familie het ek altyd net die beste behandeling van haar ontvang. Sy sou moeite doen om dit vir my so aangenaam en lekker as moontlik te maak. Ek het regtigwaar soos die een of ander bekende persoonlikheid gevoel as ek by haar gaan kuier het daar op Viljoenshof, later op Hermanus en nog later daar op Worcester. Spesiale disse sou voorgesit word en die beste eetgerei was uitgehaal. Twee goed sal my altyd laat lag as ek aan my kuiers daar by haar dink. Met my eerste besoek aan haar – toe ek nog na Estelle gevry het – het ek ook maar probeer om die beste voetjie voor te sit. Sy het 'n waterblommetjie bredie voorgesit die dag en ek het per ongeluk die hele bottel tamatiesous in my bord uitgeskud. Sy het al te lekker gelag. Die ander keer, toe al 'n groot man van kinders, het ek en haar seun Jacob, of Boetie soos almal hom genoem het, een aand laat – dit was eintlik laatnag – nadat die vleis nou al gebraai was en die mense al geëet het, pa Willie se heilig bewaarde 'spider gums' bly gooi op die vuur en bly gooi aan die wynkruik wat nie wou leeg nie. Omdat dit so lekker op die plaas was en die nag so stil was, het ons dit goed gedink om die stilte so 'n bietjie op te vrolik met ons sang. Dit het te mooi geklink en die liedjies se woorde het selfs geëggo na ons toe terug kom daar van die berg se kant af. Dit was vir ons net te mooi. Maar ma Olive het weer nie so gedink nie. Sy het dit haar plig geag om ons twee keer te versoek om sagter te praat en te sing of heeltemal stil te bly. Ons, aan die ander kant, het weer gedink dis ons reg as groot manne om uiting te gee aan ons sang talent. En so sing ons voort. Die volgende oomblik hoor ek 'n harde klap geluid, toe val hierdie groot man hier langs my bo van sy stomp af soos ma Olive hom klap. Doodstil. Ek het nie eens gelag nie. Ek hoor net die nag geluide, Boetie op sy beurt, die gesuis in sy kop.


Iets wat ek myself nooit kon vergewe het nie, was die aand in Ceres se Dennebos toe ek, op haar vraag aan my hoekom daar sulke blou vlamme uit die wingerd stompies kom, vir haar vertel dat dit die alkohol in die hout is wat hierdie blou kleur veroorsaak! Ek kon my nooit sovêr kry om haar om verskoning te vra vir my leuen nie. Haar oë het my daardie aand vertel dat sy elke woord glo!


Olive Grace James was nie jou gewone vrou nie. As daar destyds 'n vroue Springbok span was, sou sy die keurders se outomatiese keuse gewees het en as sy 'n lid van die parlement was, sou sy die president se eerste keuse gewees het om in die kabinet te dien.


Sy was moeder, vader, diplomaat, skeidsregter, vegter, tuinier en bowenal lief vir die mense rondom haar.


'n Formidabele vrou in eie reg.




DOMINUS TECUM
















En of dié uur vêr en vergete word,


en of die jare tussen jou en my


hul seile span, die see sy golwe stort,


of selfs die Dood sy somber baken steek,


nogtans sal jy aan my gebonde bly


met die onsigb're naelstring wat nie breek.


Verbatim uit: Die Moeder van Elizabeth Eybers (16.2.1915-1.12.2007)

















Sunday, July 18, 2010

VOLMOED ~ PLEK VAN SON EN VOLSTRUISE

Net soos jy oor die Steyldrift brug is - dis nou van Oudtshoorn se kant - draai jy regs af. Hier en daar is daar 'n groen lusernkol, maar die res is net 'n stowwerige vlakte met vaal karoobossies, so ver as wat die oog kan sien. Die volstruise kan jy ook nie mis nie, hulle is oraloor. Skynbaar die enigste ander wese, behalwe 'n mens, wat hier kan leef!
Hoewel die Olifantsrivier vlak by die nedersetting verby vloei, is daar weinige dae water in. Uit my kinderdae onthou ek dit as 'n droë loop, wel die meeste van die tyd. Want daar was tye in die geskiedenis wat dit 'n siedende, bruisende rivier was wat alles uit die pad geveeg het of sommer net saam gevat het see toe! Van die vroegs-aangetekende vloede in die geweste was dit elke keer die Olifantsrivier wat die inwoners se verbeelding aaangegryp het. In 1885 spoel die nuutgeboude Victoria brug weg, in 1891 word daar beskryf hoe die volstruise en beeste in die rivier afgedryf kom. In 1976 het ek dit self ervaar en gewonder waar al die water vandaan kom en in 1981 het dit ook groot skades vir die boere beteken.
As die son jou op Volmoed se vlaktes alleen kry, brand hy jou dood, het die oumense altyd gesê. Op 'n regte somersdag met die kwik wat in die veertigs loop draai, is dit alles stil rondom jou, selfs die ywerige sonbesies het die stryd gewonne gegee. Dis net jy en die voetpad en die son. Slegs die gehardstes onder die gehardes kan 'n leeftyd daar uithou. Maar as die reën die jaar kom, word die vlaktes omskep in 'n lushof. Daar is 'n glimlag op elke boer se gesig en die volstruise doen hulle bekende dans van die reën. Lusern, die 'groen goud' van die Klein Karoo, aard uitstekend hier en is 'n see van groen in die mooi jare. In slegte jare is dit net die skool se tennisbane wat groen vertoon.
Die mense van Volmoed is baie spesiale mense, mens-mense, mense wat gewoond is aan swaarkry maar nog steeds net hulle beste vir jou sal gee. Die du Toit's wat die winkel en perolpompe besit het, Lampie Olivier van Driehoek wat die skoolbus bestuur het, Loel Olivier en sy gesin wat so lekker gesing het in die kerk en op skool funksies, oom Hendrik Zeelie die skoolopsigter, tannie Edna wat die klein winkeltjie naby die ou koshuis besit het, almal mense wat hul merk gemaak het op die vlaktes van Volmoed en wie se gesigte jou ewig sal bybly.

Dis 'n ver pad sedert die nedersetting reeds in 1770 hul eerste wit boere gehuisves het. Die plek het eers Armoed geheet, so vernoem na 'n Bruinman wat daar gewoon het en wat seker 'n besonderse indruk moes gemaak het op die bevolking van daardie tyd. Sedert 1908 het die eienaar van die plaas Armoed, W.G. Olivier, 'n aanbod aan die kerk gemaak om 5 morg van sy grond asook 'n kerkgebou van 7oo sitplekke te skenk. Hy sou die kerkgebou op sy eie koste laat oprig volgens die plan wat die kerkraad sou goedkeur en hy het die wens uitgespreek dat daar 'n dorp op sy grond gestig moet word. Die kerkraad van Oudtshoorn wou nie hieraan byt nie en vir eers is die aanbod van die hand gewys. Maar in 1910, seker nadat daar nou lank oor die saak gebid en gemurmureer was, het die kerkraad tog ingegee en is die aanbod aanvaar en twee jaar daarna is die transportakte aan die kerkraad van Oudtshoorn oorgedra. In 1913 is 'n pastorie langs die kerk gebou (wat later 'n koshuis sou word) en aansoek om afstigting van Oudtshoorn is gedoen. Maar soos dit nou maar is en nog altyd was draai die kerk se ratte stadig. Eers in 1921 sou hierdie versoek toegestaan word. Gedurende die tydperk 1931-1943 is 'n tweede pastorie met net langsaan 'n mooi groot saal, opgerig. Dit is meer sentraal geleë en sou later die enigste pastorie wees van die gemeente. Die pragtige kerkgebou is nou te koop weens die feit dat daar weinig genoeg mense is om 'n diens die moeite werd te maak.

Saturday, July 17, 2010

Allana, Prinses van die Woud




Die dag toe jy in my lewe gekom het, het jy alles staan en verander, ja alles in my lewe omgekrap. Ek kon nie meer hard praat of nies nie, of die musiek se volume 'n bietjie opgedraai het nie. As ek gaan stap, moes ek plek maak vir jou in my arms en ek kon ook nie net sommer gaan stap het soos ek wou nie, nee, ek moes ook die son dophou sodat dit nie in jou fraaie bruin ogies skyn nie.

Skaars drie maande oud, toe leer ek jou om aan die blare en die bas van die bome te vat. Een van jou eerste woorde was bome. Jy was op jou rustigste wanneer ons onder die ou groot akkerbome gestaan het, ek weer, op my onrustigste, want wanneer tuimel daar nie 'n tak of dalk 'n stam op jou kop nie!

Namate jy ouer en groter geword het, het die ander dingetjies bygekom. Met jou eerste verjaardag het jy instinktief geweet dat jy die middelpunt van die partytjie was en het tóé al die snaakste dinge gedoen waarvoor almal gelag het! Hoe't jy geweet, hmm?

Die swaai in die boom wat ek help prakseer het, het ons op ons voete gehou en jou op jou sitvlak - tot jy selfs later aan die slaap raak in die buiteband-wiegie.
Met jou in die omgewing het 'n mens nie 'n TV en al hierdie tegnologiese snert nodig nie. Jy is 'n volle konsert op jou eie, 'n danser par excellence, 'n resitasie-opsêer en 'n sanger in wording. Ja, jy gooi soms jou speelgoed uit die kot, maar dis omdat daar te veel van dit is!
Lank voordat jy twee jaar oud was, kon jy al die diere in jou dik diereboek op die naam noem EN hulle geluide namaak. En het jy al vergeet hoe jy, as jy middae by die huis kom, heel eerste die stoele nader aan die wasbak geskuif het om die skottelgoed te was; hoe jy die water uit die een houer binne 'n ander oorgegooi het en weer van voor begin - tot in die oneindigheid!

Toe ander kinders van jou ouderdom nog probeer het om met 'n lepeltjie te eet, het jy al lankal self besluit net 'n vurk is goed genoeg vir jou. En alle soorte groente is jou kos - al word Broccoli bome genoem!

Maatjies maak jy maklik en grootmense word opsluit voorgekeer op jou pad om eers 'n geselsie aan te knoop. En as jy hulle eers in jou sak het, word hulle opgekommandeer om dinge vir jou te doen soos JY daarvan hou.

As ek baie geld gehad het, sou ek vir jou 'n kasteel in die woud oprig en as ek kon skryf, sou ek vir jou die mooiste feëverhale neergepen het. Want jy is die prinses van die woud...






Friday, July 16, 2010

Tom July




Julie maand laat my dink aan ou Tom. Tom July van Oudtshoorn. Saam met ons drie oudste kinders groot geword daar op Saffraanrivier in die distrik van Oudtshoorn. Met die toentertydse veldkornetskappe het dit bekend gestaan as die Attakwaskloof - wyk. Pragtige natuurskoon soos net die Klein Karoo dit vir jou kan aanbied.






Tom en sy broer, Ben, kinders van Ben en Sarah, het ons geleer hoe om kleilat te gooi en met die spekbome teen die walle van die Saffraanrivier af te gly tot binne in die water - AS daar water in was want dit het nie gereeld gereën in daardie geweste nie. Saam het ons in die dassiegrotte rondgekruip, op koue oggende met ons kaalvoete in die warm beesmis gestaan, roosterkoeke wat Sarah vir ons saam veld toe gestuur het, op die oop vuur gebraai en al die ander gewone kwajongstreke beplan en uitgevoer.






Nadat ons die skool verlaat het en Tom en sy broer Ben op die plaas begin werk het, het ons met ons besoeke aan ons ouerhuis, altyd ook 'n draai gaan maak by die huisie van die July's. En dan het hulle ons aangespreek as kleinbaas Johann of Kleinbaas Eugene en so het dit kleinbaas gebly tot ons(Tom en Ben inkluis) al oor die vyftig was - ewe oud, maar kleinbaas sou dit bly.






Tom het later op 'n ander plaas gaan werk en almal van ons het maar elkeen sy lêplek gekry, maar my broer Ernest het op Oudtshoorn nes geskop. En kort voor lank het Tom uitgevind waar Ernest bly en dit sou dan sy half-uur kuierplek word op 'n Saterdag oggend. Daar sou hy (soms) skuifelend naderkom, hoed in die hand en met groot respek, kom groet. As ek toevallig daar was, moes ek eers vertel wat die nuutste nuus in die GROOT STAD (Paarl!) is. Dan het ons gelag en gepraat oor die ou dae. Tom was, soos die oumense sou sê, in vervoering tydens sulke oomblikke en oor al die aandag wat hy gekry het. En klokslag elke Saterdag het Ernest vir Tom 'n glasie wyn gegee - goeie wyn. Dan het Tom dankie gesê en weer die pad gevat na sy mense.






Maar dit het ook menige kere gebeur dat Tom reeds die Vrydag agtermiddag al dorp toe gekom het en na die inkopies ensovoorts, het hy ook by die OOG aangegaan. En natuurlik 'n ietsie geneem. Vir die warmte of die koue sien. Want vir al die seisoene is daar mos gepaste drinkgoed. Dan, as ou Tom sien hy gaan dit nie maak tot by die staaning nie, het hy donker se kant na Ernest se huis gegaan en homself tuis gemaak op my broer se 30-jarige geel Nissan bakkie wat, soos almal in die dorp geweet het, buite die garage gestaan het. Daar sou ou Tom nou sy roes afslaap en dan weer die volgende oggend douvoordag die pad vat. Hy sou nooit my broer op 'n Vrydagaand pla nie, want dit was nie kuiertyd vir hulle twee nie. So het dit dan partymaal gebeur dat my broer ook douvoordag moes ry en het hy dan vir ou Tom daar gekry en hom sommer huistoe geneem.






Die laaste bakkie-slaap van ou Tom was op oujaar 2009/2010. Toe die son op 1 Januarie 2010 opkom, lê hy wat Tom is, nog steeds en slaap met 'n nuwe kitaar styf teen hom. Hy moes ietwat te veel ingeneem het die vorige aand, want Ernest het omtrent gesukkel om hom wakker te kry. Ieder geval, hy is toe op en nadat hy gesig gewas het, wou hy darem net eers 'n nommertjie op sy nuwe kitaar speel. En ou Tom KON speel. Gelukkig het my broer ook daardie dag die wysheid gehad en 'n foto van ou Tom geneem - sommer met die selfoon want Tom sou nie pose vir 'n foto nie. Sy nuwejaar het goed begin maar nie lank gehou nie...






'n Maand of twee daarna, kom Tom se vrou daar by Ernest aan. Ook op 'n Saterdagoggend soos dit die gewoonte van ou Tom was, en Ernest sê dat hy sommer dadelik weet daar is fout. Tom sonder sy vrou was heel normaal, maar sy vrou sonder hom, kon net een ding beteken. "Nee, sê sy, kleinbaas Ernest sien, Tom het so twee weke gelede vir my gesê as hy eendag moet doodgaan, moet ek sôre dat kleinbaas Ernest daardie vet hans-hamel kry, want hy maak dit spesiaal groot en vet vir kleinbaas Ernest." "En, vervolg sy, nou moet kleinbaas Ernest maar die hamel kom haal want hy is gisternag weg." En sy vertel hoedat hulle weer 'n social daar by hulle huisie gehou het en dat dinge later hand-uit geruk het. Hulle het vir Tom bewusteloos geslaan, in die huis terug gegooi en die huisie boonop aan die brand gesteek!






Hierdie een is op ou Tom en sommer vir al die ou Tomme wat dalk ook eens op 'n tyd julle lewens verryk het.






[Tom se foto is deur Ernest geneem en die foto van Ben en Sarah se huisie, is deur Eugene geneem in 2008.]













































Thursday, July 15, 2010

Koue Boland


Vir die wat wonder hoekom my Blog @Hemelrood genoem word; dit was die plaas se naam waar my stamvader gaan boer het pas nadat hy sy burgerskap verkry het in 1734. Die plaas is geleë in Herbertsdale en is trouens die plaas waarop die dorp uitgelê is. So, dis maar 'n naam met 'n nostalgiese verbintenis.


Die koue hier in die Boland het nou met mening toegeslaan en dis kompleet of dit hierdie jaar kouer is as verlede jaar. Die berge is in elk geval witter as verlede jaar dieselfde tyd. Maar ek werk lekkerder in die koue.


Gisteraand lekker by Petrus en Joey langs die kaggelvuur gekuier en met Guenevere gespeel - sy raak nou net ouliker by die dag!


Tans is ek besig om al die Claassen- mans en vroue in die doopregisters van die Herold gemeente aan te teken in my familie databasis. Hoop om die einde van die maand hiermee klaar te wees.


Praat môre weer verder.