’n Kollega by die Drakenstein Heemkring
vertel nou onlangs van sy oupagrootjie wat in lewe die besitter
was van heelparty plase en eiendomme in die Vallei en deur almal beskou is as ’n baie ryk man. Met die afhandeling van
sy boedel het die laste bykans sy bates oorskry en kon elkeen van sy veertien
kinders slegs £15.00 erf uit die boedel.
Dit het my toe laat wonder oor
die rykdom van die boere van die Drakenstein-Vallei gedurende die 1700’s en
1800’s. Met die deurlees van ’n paar inventarisse uit daardie tydperk, kon
ek ’n redelike prentjie vorm van die
gemiddelde boer en sy rykdom. Die inventaris bied, behalwe ’n opname van die lewende
hawe, ook ’n kykie in die gesin se huis. Daarvolgens kan die grootte van die
woning ook met redelike sekerheid bepaal word. Dit gee partymaal ook ’n
aanduiding van die gesin se belangstellings soos byvoorbeeld stokperdjies. Dit dui
ook die oorledene se skuldenaars en eisers aan en voorts bied dit ook lekker
interessante leesstof om te weet watter van die familielede in die skuld was by
die afgestorwene.
Ene Jan van As van die plaas Witsenbergh in die Agter-Paarl het heelwat
nagelaat aan sy “huisvrouw”, Helena Schalk van Merwen(vd Merwe) en ses minderjarige
kinders toe hy in 1713 oorlede is. Benewens die “negen stux mansslawe” wat
gewaardeer is teen 2400 guldens en twee slavinne genaamd Flora en Marie teen
240 guldens, was daar ook 1370 skape, 129 beeste en twaalf perde. Die diere was
gewaardeer teen 3100 guldens.
Daar was ook:
twee waens met toebehore
twee ploeë en een eg
twaalf leggers(vate) met wyn
sewe ou ledige leggers
drie ou ledige(leë) halwe vate
twaalf ledige mompijpen (mom is ’n soort bier)
twee snaphaanen(gewere)
twee zijdgeweeren (sabels)
een pistoolen met sijn holsters
twee zadels en toomen
eenig thuyngereetschap
20 en 30 mudde tarwe(koring)
Saam met die klere en meubels – wat nie gespesifiseer is nie – was die
bates gewaardeer teen 11394 guldens en die laste teen 2500 guldens. Dit het dus
’n gewaardeerde batige saldo van 8894 guldens gelaat. Hierdie boer se rykdom was
in ’n groot mate gemeet aan die hoeveelheid slawe wat hy besit het.
Ene Pieter Plesi (du Plessis), ’n burger van Drakenstein, was nie ryk
nie. Sy inventaris gedateer 26 April
1742, dui aan dat hy aan tien persone/instansies geld geskuld het; onder andere
600 gulden aan die Drakenstijn kerk (huidige Strooidakkerk). Die rente daarop het 108 gulden beloop. Die totale skuld teen die
boedel was 3065 gulden. Sy bates was ’n
paar stuks vee en die waarde daarvan sou
nie die skuld sou kon delg nie. Die gemiddelde waarde van ’n skaap en bees was
onderskeidelik 2 gulden en 12 gulden.
Francois Jacobus du Toit en sy vrou, Anna Jacomina Luttig, van die plaas
Waterpoel, se inventaris van hul
intestate boedel is in Engels opgestel.
Hul inventaris dui aan dat daar ’n onthaalvertrek (the hall), ’n kamer aan die
regterkant, ’n kamer aan die linkerkant, ’n spens en ’n kombuis was. Daar was
ook ’n wynstoor. Die beskrywing van die vertrekke dui op die grondplan van ’n tipiese
H-vormige huis wat sedert die 18de eeu gewild begin raak het in die Kaapkolonie. Dat
hulle redelik onthaal het, blyk uit die 17 stoele, drie eetkamer tafels,
heelwat wyn- en ander glase asook duursame bykomstighede in die onthaalvertrek.
Die kamers aan die linker- en regterkant was slaapkamers met die
regterkantse een heel waarskynlik die hoofslaapkamer aangesien die beddens as
“bedstead complete” aangedui word. Die aanwesigheid van twee Bybels in
laasgenoemde bevestig my vermoede. Drie van die egpaar se ses kinders was in daardie
stadium al getroud.
In die hoofslaapkamer was gordyne en in die kinderkamer darem ’n portret
teen die muur. Die “spy glass” in die kinderkamer was ’n vêrkyker en het niks
te doen met spioenasie nie! In die wynstoor was daar 13 boeke, iets wat glad
nie volop was nie en slegs persone wat professionele beroepe beoefen het of
anders baie vermoënd was, het ’n boekery besit.
In Francois se inventaris word daar spesifiek voorsiening gemaak vir
sy jongste seun, Bartholomeus Johannes
du Toit. Luidens die dokument is daar ’n
geskenk wat deur sy vader gemaak is en ’n bruidskat ter waarde van 100
riksdaalders. Duidelik ’n vader wat wou sien dat die jongste kind sy regmatige
deel moes kry.
En wat was op die solders? Byna sonder uitsondering sal dit daar
aangeteken staan: Een ledige kist. Niemand – ryk of arm – sou sonder een betrap
wou word nie...
Bronne:
Kaapse Argiefbewaarplek
Cape Transcripts – TEPC Two Centuries Transcribed 1673-1834.
[Transcriptions of manuscripts from the Cape Archives about people and places
at the Cape of Good Hope].
No comments:
Post a Comment