Monday, July 26, 2010

OLIVE GRACE JAMES *9 DESEMBER 1925 † 19 Julie 2009 ~ ’n KORT LEWENSKETS








'n Kort Lewenskets






OLIVE GRACE JAMES










Saamgestel deur haar skoonseun, Johann H Claassen


Dit sou net niks minder nie as reg wees dat ek hierdie kort lewenskets van Ma Olive saamstel. Ek ken haar al twee en dertig jaar, weliswaar nie so lank as haar eie kinders nie, maar lank genoeg om enkele aspekte van haar lewe met die res wat agterbly, te deel. Ek is geweldig dankbaar vir die voorreg en geleentheid om dit wel te kon doen.


Olive Grace JAMES is gebore op Woensdag die 9de Desember 1925 in 'n warm hospitaal van Pietermaritzburg as die 10de oudste van 12 kinders en die derde oudste van 4 dogters van George William JAMES en Florence Josephine WARNER.


Uit die aard van haar vader se werk, het die gesin op verskeie plekke in die Republiek gebly, onder andere in Durban, Oos-London Somerset-Oos, Johannesburg, Jagersfontein, Beaufort-Wes en Worcester.


Olive trou op 30 November 1949 te Kaapstad met Jacobus Adriaan VICTOR gebore 24 Augustus 1923 te Laingsburg en seun van Jacob VICTOR en Susanna Maria BOTES. Uit hierdie huwelik word vier kinders, naamlik Jacob, Adriaan, Estelle en Ronel gebore.


Ma Olive self, het op verskeie stede en dorpe van ons pragtige land gebly, nie omdat sy daarvan gehou het om rond te reis nie, maar weens omstandighede buite haar beheer. Sy het eendag aan my genoem hoeveel keer sy al getrek het, maar dit ontgaan my nou weens die omvang daarvan. Na die dood van haar kinders se pa, Jacobus Adriaan in 1968, moes sy die meeste van die tyd as alleen-ouer haar kroos self grootmaak, voed en klee. Die twee huwelike wat sy noodgedwonge moes aangaan om 'n vader en versorger vir die gesin te hê, was nie sonder probleme nie en het dit die kwaliteit van 'n vrou soos Olive geverg om die wa deur die drif te trek. Skilder vir jouself dié prentjie: 'n Vrou, 'n ma, met vyf monde om te voed en te klee, skool toe te stuur, te help met huiswerk en sorg dat die klere gewas en gestryk kom; dis die vroeë sestiger jare, die land is deurmekaar en redelik onveilig; die oudste seun is op daardie stadium skaars agtien en die jongste een, Ronel, skaars drie jaar oud. Jacob moet noodgedwonge die skool verlaat om te gaan werk sodat daar 'n ekstra inkomste is. U sal nou vir my sê dat daar baie gesinne gereeld in dieselfde bootjie is of was. Dit is baie waar ja, maar dit is ma Olive waaroor ons nou praat. Dis haar en haar gesin se swaarkry dae wat ek hier probeer skets. In die huidige tydvak waarin ons is, slaag 'n enkel moeder weinig daarin om met al die hulpmiddels tot haar beskikking, slegs een kind groot te maak.


Die prentjie wat ons uiteindelik hier kry is een van 'n moeder wat net die beste vir haar kinders wou gedoen en beding het. 'n Moeder wat ongewilde besluite moes neem om die beste onder die omstandighede vir haar kinders te bied. Moontlik het die kinders, vriende en familie nie daardie tyd verstaan nie, maar ek glo dat hulle dit wel nou kan verstaan. Waar pa Koos gereeld die gesin op uitstappies na familie en vriende elders geneem het, kon dit nie meer geskied nie. Waar hy vir hulle op 'n Saterdag middag bioskoop toe geneem het, kon dit nie meer gebeur nie. Maar ma Ollie het sterk gestaan en deurgedruk. Die twee dogters is deur matriek maar die seuns moes uitspring en help. So jammer dat so min mense daarvan geweet het; of daarvan geweet het en so min daaraan gedoen het.


In lewe het sy twee van haar seuns aan die dood afgestaan. Trou aan haar roeping as moeder het sy, sonder om aan haar eie verdriet te dink, die leiding geneem en haar skoondogters bygestaan met raad en daad, hulle vertroos en die reëlings laat vlot.


As ouma het sy vêrder gegaan en vir Cornelia feitlik enkel en alleen opgevoed en grootgemaak tot en met haar "grootmens jare". Sy het al haar tyd, energie en materiële vermoëns in haar laaste jare vir ander gegee sonder om iets terug te verwag.


As daar nou en dan medaljes aan moeders wat hulle onderskei het, uitgedeel moes gewees het, dan moes ma Olive ten minste twee gekry het. Een, omdat sy hierdie omgee moeder vir haar gesin en kinders was en 'n tweede, omdat sy hierdie taak met bomenslike bekwaamheid verrig het.


In haar laaste jare het sy geluk gevind in die persoon van oom Willie GERMISHUYS van Viljoenshof. Hoewel hy haar ook ontval het na slegs 'n paar jaar van getroude lewe, was hierdie twee oumense 'n gelukkige paartjie; Oom Willie, 'n sorgsame man vir haar en een vir wie die kinders, toe al groot, Pa kon gesê het. Natuurlik het oom Willie baie dae sy kop geskud vir hierdie energieke vrou van hom, maar hulle het bymekaar gepas soos koek en 'n basaartafel. Die een sou heel uit sy plek lyk sonder die ander.


Ma Olive was een wie met almal kon klaarkom en vriende het gereeld van heinde en vêr gekom om darem net eers 'n draai by tant Olive te kom maak. Sy het soveel mense se lewens aangeraak. Van die geringste tot die belangrikste.


Sy het ook die gawe gehad om enige verwaarloosde tuin in 'n ommesientjie te omtower in 'n lushof. Spreekwoordelike groen vingers gehad. Ons praat egter nie van die klomp opdragte wat sy uitgereik het om haar doel met die tuin te bereik nie. Die hele familie was betrek en as jy as vreemdeling te ná aan die tuinhekkie verby gestap het, was jy ook gou-gou deel van die span.


As buitestander kon ek sien hoe die finale reëlings deur die vertrekkende matriarg self getref word(die kinders sou dit dalk nie so opgemerk het nie); André en Corrie moes op 'n sekere tyd spesifieke goed kry, Estelle weer hare. Haar "Onthou om die rose te snoei só en sulke tyd. Moenie hierdie en daardie op dieselfde plek of dieselfde tyd plant nie. Maak dít nóú nat en los dáárdie vir volgende maand" was vir my sulke duidelike tekens. En terwyl sy by my aan tafel in die kombuis die Saterdagoggend haar soveelste sigaret opsteek en Estelle en die kinders op hul soveelste rit na die Mall vertrek, vertel sy vir my van haar grootste droom wat nooit kon waar word nie: Om haar eie Kwekery te kon besit. En ek weet, sonder om vrae te vra: Ma Ollie sou 'n sukses daarvan gemaak het! Ek sien nou nog die oë wat dáár kyk waar ek nie kon sien nie.


Op haar laaste het sy vir Ronel en Johannes aan die gang gesit om tog asseblief die hangende varing-mandjies gereed te kry vir die plantjies. Renier moes sorg dat daar genoeg mis beskikbaar is. Maar die Dood vra nie of die plantjies al geplant is nie. Hy kom haal somtyds die tuinier voor die oes al af is.


Sy sou aandagtig luister as jy 'n probleem stel en was altyd reg met raad. Raad wat partykeer vir ons veel outyds geklink het, maar agterna, na baie jare veel sin gemaak het. Die kleinkinders kon haar dalk anders beleef het veral as hulle haar blomplantjies verniel het of met hulle vuil voete die huis ingekom het. Maar sy was onvoorwaardelik lief vir hulle en het altyd met groot trots oor elkeen gesels. Sy het met ewe veel trots van haar eie kinders gesels tydens én buite hulle teenwoordigheid. Elkeen was spesiaal. "Senior oomblikke" het nou wel gesorg dat Estelle vir 'n oomblik Ronel was en andersom. Ons kon altyd saam daaroor lag.


As aangetroude in die familie het ek altyd net die beste behandeling van haar ontvang. Sy sou moeite doen om dit vir my so aangenaam en lekker as moontlik te maak. Ek het regtigwaar soos die een of ander bekende persoonlikheid gevoel as ek by haar gaan kuier het daar op Viljoenshof, later op Hermanus en nog later daar op Worcester. Spesiale disse sou voorgesit word en die beste eetgerei was uitgehaal. Twee goed sal my altyd laat lag as ek aan my kuiers daar by haar dink. Met my eerste besoek aan haar – toe ek nog na Estelle gevry het – het ek ook maar probeer om die beste voetjie voor te sit. Sy het 'n waterblommetjie bredie voorgesit die dag en ek het per ongeluk die hele bottel tamatiesous in my bord uitgeskud. Sy het al te lekker gelag. Die ander keer, toe al 'n groot man van kinders, het ek en haar seun Jacob, of Boetie soos almal hom genoem het, een aand laat – dit was eintlik laatnag – nadat die vleis nou al gebraai was en die mense al geëet het, pa Willie se heilig bewaarde 'spider gums' bly gooi op die vuur en bly gooi aan die wynkruik wat nie wou leeg nie. Omdat dit so lekker op die plaas was en die nag so stil was, het ons dit goed gedink om die stilte so 'n bietjie op te vrolik met ons sang. Dit het te mooi geklink en die liedjies se woorde het selfs geëggo na ons toe terug kom daar van die berg se kant af. Dit was vir ons net te mooi. Maar ma Olive het weer nie so gedink nie. Sy het dit haar plig geag om ons twee keer te versoek om sagter te praat en te sing of heeltemal stil te bly. Ons, aan die ander kant, het weer gedink dis ons reg as groot manne om uiting te gee aan ons sang talent. En so sing ons voort. Die volgende oomblik hoor ek 'n harde klap geluid, toe val hierdie groot man hier langs my bo van sy stomp af soos ma Olive hom klap. Doodstil. Ek het nie eens gelag nie. Ek hoor net die nag geluide, Boetie op sy beurt, die gesuis in sy kop.


Iets wat ek myself nooit kon vergewe het nie, was die aand in Ceres se Dennebos toe ek, op haar vraag aan my hoekom daar sulke blou vlamme uit die wingerd stompies kom, vir haar vertel dat dit die alkohol in die hout is wat hierdie blou kleur veroorsaak! Ek kon my nooit sovêr kry om haar om verskoning te vra vir my leuen nie. Haar oë het my daardie aand vertel dat sy elke woord glo!


Olive Grace James was nie jou gewone vrou nie. As daar destyds 'n vroue Springbok span was, sou sy die keurders se outomatiese keuse gewees het en as sy 'n lid van die parlement was, sou sy die president se eerste keuse gewees het om in die kabinet te dien.


Sy was moeder, vader, diplomaat, skeidsregter, vegter, tuinier en bowenal lief vir die mense rondom haar.


'n Formidabele vrou in eie reg.




DOMINUS TECUM
















En of dié uur vêr en vergete word,


en of die jare tussen jou en my


hul seile span, die see sy golwe stort,


of selfs die Dood sy somber baken steek,


nogtans sal jy aan my gebonde bly


met die onsigb're naelstring wat nie breek.


Verbatim uit: Die Moeder van Elizabeth Eybers (16.2.1915-1.12.2007)

















Sunday, July 18, 2010

VOLMOED ~ PLEK VAN SON EN VOLSTRUISE

Net soos jy oor die Steyldrift brug is - dis nou van Oudtshoorn se kant - draai jy regs af. Hier en daar is daar 'n groen lusernkol, maar die res is net 'n stowwerige vlakte met vaal karoobossies, so ver as wat die oog kan sien. Die volstruise kan jy ook nie mis nie, hulle is oraloor. Skynbaar die enigste ander wese, behalwe 'n mens, wat hier kan leef!
Hoewel die Olifantsrivier vlak by die nedersetting verby vloei, is daar weinige dae water in. Uit my kinderdae onthou ek dit as 'n droë loop, wel die meeste van die tyd. Want daar was tye in die geskiedenis wat dit 'n siedende, bruisende rivier was wat alles uit die pad geveeg het of sommer net saam gevat het see toe! Van die vroegs-aangetekende vloede in die geweste was dit elke keer die Olifantsrivier wat die inwoners se verbeelding aaangegryp het. In 1885 spoel die nuutgeboude Victoria brug weg, in 1891 word daar beskryf hoe die volstruise en beeste in die rivier afgedryf kom. In 1976 het ek dit self ervaar en gewonder waar al die water vandaan kom en in 1981 het dit ook groot skades vir die boere beteken.
As die son jou op Volmoed se vlaktes alleen kry, brand hy jou dood, het die oumense altyd gesê. Op 'n regte somersdag met die kwik wat in die veertigs loop draai, is dit alles stil rondom jou, selfs die ywerige sonbesies het die stryd gewonne gegee. Dis net jy en die voetpad en die son. Slegs die gehardstes onder die gehardes kan 'n leeftyd daar uithou. Maar as die reën die jaar kom, word die vlaktes omskep in 'n lushof. Daar is 'n glimlag op elke boer se gesig en die volstruise doen hulle bekende dans van die reën. Lusern, die 'groen goud' van die Klein Karoo, aard uitstekend hier en is 'n see van groen in die mooi jare. In slegte jare is dit net die skool se tennisbane wat groen vertoon.
Die mense van Volmoed is baie spesiale mense, mens-mense, mense wat gewoond is aan swaarkry maar nog steeds net hulle beste vir jou sal gee. Die du Toit's wat die winkel en perolpompe besit het, Lampie Olivier van Driehoek wat die skoolbus bestuur het, Loel Olivier en sy gesin wat so lekker gesing het in die kerk en op skool funksies, oom Hendrik Zeelie die skoolopsigter, tannie Edna wat die klein winkeltjie naby die ou koshuis besit het, almal mense wat hul merk gemaak het op die vlaktes van Volmoed en wie se gesigte jou ewig sal bybly.

Dis 'n ver pad sedert die nedersetting reeds in 1770 hul eerste wit boere gehuisves het. Die plek het eers Armoed geheet, so vernoem na 'n Bruinman wat daar gewoon het en wat seker 'n besonderse indruk moes gemaak het op die bevolking van daardie tyd. Sedert 1908 het die eienaar van die plaas Armoed, W.G. Olivier, 'n aanbod aan die kerk gemaak om 5 morg van sy grond asook 'n kerkgebou van 7oo sitplekke te skenk. Hy sou die kerkgebou op sy eie koste laat oprig volgens die plan wat die kerkraad sou goedkeur en hy het die wens uitgespreek dat daar 'n dorp op sy grond gestig moet word. Die kerkraad van Oudtshoorn wou nie hieraan byt nie en vir eers is die aanbod van die hand gewys. Maar in 1910, seker nadat daar nou lank oor die saak gebid en gemurmureer was, het die kerkraad tog ingegee en is die aanbod aanvaar en twee jaar daarna is die transportakte aan die kerkraad van Oudtshoorn oorgedra. In 1913 is 'n pastorie langs die kerk gebou (wat later 'n koshuis sou word) en aansoek om afstigting van Oudtshoorn is gedoen. Maar soos dit nou maar is en nog altyd was draai die kerk se ratte stadig. Eers in 1921 sou hierdie versoek toegestaan word. Gedurende die tydperk 1931-1943 is 'n tweede pastorie met net langsaan 'n mooi groot saal, opgerig. Dit is meer sentraal geleë en sou later die enigste pastorie wees van die gemeente. Die pragtige kerkgebou is nou te koop weens die feit dat daar weinig genoeg mense is om 'n diens die moeite werd te maak.

Saturday, July 17, 2010

Allana, Prinses van die Woud




Die dag toe jy in my lewe gekom het, het jy alles staan en verander, ja alles in my lewe omgekrap. Ek kon nie meer hard praat of nies nie, of die musiek se volume 'n bietjie opgedraai het nie. As ek gaan stap, moes ek plek maak vir jou in my arms en ek kon ook nie net sommer gaan stap het soos ek wou nie, nee, ek moes ook die son dophou sodat dit nie in jou fraaie bruin ogies skyn nie.

Skaars drie maande oud, toe leer ek jou om aan die blare en die bas van die bome te vat. Een van jou eerste woorde was bome. Jy was op jou rustigste wanneer ons onder die ou groot akkerbome gestaan het, ek weer, op my onrustigste, want wanneer tuimel daar nie 'n tak of dalk 'n stam op jou kop nie!

Namate jy ouer en groter geword het, het die ander dingetjies bygekom. Met jou eerste verjaardag het jy instinktief geweet dat jy die middelpunt van die partytjie was en het tóé al die snaakste dinge gedoen waarvoor almal gelag het! Hoe't jy geweet, hmm?

Die swaai in die boom wat ek help prakseer het, het ons op ons voete gehou en jou op jou sitvlak - tot jy selfs later aan die slaap raak in die buiteband-wiegie.
Met jou in die omgewing het 'n mens nie 'n TV en al hierdie tegnologiese snert nodig nie. Jy is 'n volle konsert op jou eie, 'n danser par excellence, 'n resitasie-opsêer en 'n sanger in wording. Ja, jy gooi soms jou speelgoed uit die kot, maar dis omdat daar te veel van dit is!
Lank voordat jy twee jaar oud was, kon jy al die diere in jou dik diereboek op die naam noem EN hulle geluide namaak. En het jy al vergeet hoe jy, as jy middae by die huis kom, heel eerste die stoele nader aan die wasbak geskuif het om die skottelgoed te was; hoe jy die water uit die een houer binne 'n ander oorgegooi het en weer van voor begin - tot in die oneindigheid!

Toe ander kinders van jou ouderdom nog probeer het om met 'n lepeltjie te eet, het jy al lankal self besluit net 'n vurk is goed genoeg vir jou. En alle soorte groente is jou kos - al word Broccoli bome genoem!

Maatjies maak jy maklik en grootmense word opsluit voorgekeer op jou pad om eers 'n geselsie aan te knoop. En as jy hulle eers in jou sak het, word hulle opgekommandeer om dinge vir jou te doen soos JY daarvan hou.

As ek baie geld gehad het, sou ek vir jou 'n kasteel in die woud oprig en as ek kon skryf, sou ek vir jou die mooiste feëverhale neergepen het. Want jy is die prinses van die woud...






Friday, July 16, 2010

Tom July




Julie maand laat my dink aan ou Tom. Tom July van Oudtshoorn. Saam met ons drie oudste kinders groot geword daar op Saffraanrivier in die distrik van Oudtshoorn. Met die toentertydse veldkornetskappe het dit bekend gestaan as die Attakwaskloof - wyk. Pragtige natuurskoon soos net die Klein Karoo dit vir jou kan aanbied.






Tom en sy broer, Ben, kinders van Ben en Sarah, het ons geleer hoe om kleilat te gooi en met die spekbome teen die walle van die Saffraanrivier af te gly tot binne in die water - AS daar water in was want dit het nie gereeld gereën in daardie geweste nie. Saam het ons in die dassiegrotte rondgekruip, op koue oggende met ons kaalvoete in die warm beesmis gestaan, roosterkoeke wat Sarah vir ons saam veld toe gestuur het, op die oop vuur gebraai en al die ander gewone kwajongstreke beplan en uitgevoer.






Nadat ons die skool verlaat het en Tom en sy broer Ben op die plaas begin werk het, het ons met ons besoeke aan ons ouerhuis, altyd ook 'n draai gaan maak by die huisie van die July's. En dan het hulle ons aangespreek as kleinbaas Johann of Kleinbaas Eugene en so het dit kleinbaas gebly tot ons(Tom en Ben inkluis) al oor die vyftig was - ewe oud, maar kleinbaas sou dit bly.






Tom het later op 'n ander plaas gaan werk en almal van ons het maar elkeen sy lêplek gekry, maar my broer Ernest het op Oudtshoorn nes geskop. En kort voor lank het Tom uitgevind waar Ernest bly en dit sou dan sy half-uur kuierplek word op 'n Saterdag oggend. Daar sou hy (soms) skuifelend naderkom, hoed in die hand en met groot respek, kom groet. As ek toevallig daar was, moes ek eers vertel wat die nuutste nuus in die GROOT STAD (Paarl!) is. Dan het ons gelag en gepraat oor die ou dae. Tom was, soos die oumense sou sê, in vervoering tydens sulke oomblikke en oor al die aandag wat hy gekry het. En klokslag elke Saterdag het Ernest vir Tom 'n glasie wyn gegee - goeie wyn. Dan het Tom dankie gesê en weer die pad gevat na sy mense.






Maar dit het ook menige kere gebeur dat Tom reeds die Vrydag agtermiddag al dorp toe gekom het en na die inkopies ensovoorts, het hy ook by die OOG aangegaan. En natuurlik 'n ietsie geneem. Vir die warmte of die koue sien. Want vir al die seisoene is daar mos gepaste drinkgoed. Dan, as ou Tom sien hy gaan dit nie maak tot by die staaning nie, het hy donker se kant na Ernest se huis gegaan en homself tuis gemaak op my broer se 30-jarige geel Nissan bakkie wat, soos almal in die dorp geweet het, buite die garage gestaan het. Daar sou ou Tom nou sy roes afslaap en dan weer die volgende oggend douvoordag die pad vat. Hy sou nooit my broer op 'n Vrydagaand pla nie, want dit was nie kuiertyd vir hulle twee nie. So het dit dan partymaal gebeur dat my broer ook douvoordag moes ry en het hy dan vir ou Tom daar gekry en hom sommer huistoe geneem.






Die laaste bakkie-slaap van ou Tom was op oujaar 2009/2010. Toe die son op 1 Januarie 2010 opkom, lê hy wat Tom is, nog steeds en slaap met 'n nuwe kitaar styf teen hom. Hy moes ietwat te veel ingeneem het die vorige aand, want Ernest het omtrent gesukkel om hom wakker te kry. Ieder geval, hy is toe op en nadat hy gesig gewas het, wou hy darem net eers 'n nommertjie op sy nuwe kitaar speel. En ou Tom KON speel. Gelukkig het my broer ook daardie dag die wysheid gehad en 'n foto van ou Tom geneem - sommer met die selfoon want Tom sou nie pose vir 'n foto nie. Sy nuwejaar het goed begin maar nie lank gehou nie...






'n Maand of twee daarna, kom Tom se vrou daar by Ernest aan. Ook op 'n Saterdagoggend soos dit die gewoonte van ou Tom was, en Ernest sê dat hy sommer dadelik weet daar is fout. Tom sonder sy vrou was heel normaal, maar sy vrou sonder hom, kon net een ding beteken. "Nee, sê sy, kleinbaas Ernest sien, Tom het so twee weke gelede vir my gesê as hy eendag moet doodgaan, moet ek sôre dat kleinbaas Ernest daardie vet hans-hamel kry, want hy maak dit spesiaal groot en vet vir kleinbaas Ernest." "En, vervolg sy, nou moet kleinbaas Ernest maar die hamel kom haal want hy is gisternag weg." En sy vertel hoedat hulle weer 'n social daar by hulle huisie gehou het en dat dinge later hand-uit geruk het. Hulle het vir Tom bewusteloos geslaan, in die huis terug gegooi en die huisie boonop aan die brand gesteek!






Hierdie een is op ou Tom en sommer vir al die ou Tomme wat dalk ook eens op 'n tyd julle lewens verryk het.






[Tom se foto is deur Ernest geneem en die foto van Ben en Sarah se huisie, is deur Eugene geneem in 2008.]













































Thursday, July 15, 2010

Koue Boland


Vir die wat wonder hoekom my Blog @Hemelrood genoem word; dit was die plaas se naam waar my stamvader gaan boer het pas nadat hy sy burgerskap verkry het in 1734. Die plaas is geleë in Herbertsdale en is trouens die plaas waarop die dorp uitgelê is. So, dis maar 'n naam met 'n nostalgiese verbintenis.


Die koue hier in die Boland het nou met mening toegeslaan en dis kompleet of dit hierdie jaar kouer is as verlede jaar. Die berge is in elk geval witter as verlede jaar dieselfde tyd. Maar ek werk lekkerder in die koue.


Gisteraand lekker by Petrus en Joey langs die kaggelvuur gekuier en met Guenevere gespeel - sy raak nou net ouliker by die dag!


Tans is ek besig om al die Claassen- mans en vroue in die doopregisters van die Herold gemeente aan te teken in my familie databasis. Hoop om die einde van die maand hiermee klaar te wees.


Praat môre weer verder.